AF

NG gemeente Oudtshoorn

Die NG gemeente Oudtshoorn is die moedergemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op Oudtshoorn, die hoofdorp van die Klein-Karoo.

Nagmaal by die ou NG kerk op Oudtshoorn, omstreeks die middel van die 19de eeu.
Die kerkgebou van die NG moedergemeente Oudtshoorn se hoeksteen is op 15 Januarie 1861 gelê, maar weens probleme is dit eers in 1879 of ’80 voltooi nadat Hager gekontrakteer is om probleme met die bouplan reg te stel.
Die ou pastorie oorkant die kerk is omstreeks 1881 opgerig.
Ds. J.W. Snyman, leraar van 1919 tot 1921.

. . . NG gemeente Oudtshoorn . . .

Ds. George Murray, sy vrou en hul 15 kinders. Hy was Oudtshoorn se leraar van 1892 tot 1911, toe hy die gemeente De Hoop se eerste leraar geword het.

Hoewel die vroegste pioniers reeds in 1750 hierdie streek bereik het, is die gemeente Oudtshoorn eers op 11 Oktober1853 gestig. Tot 1798, toe die gemeente Swellendam gestig is, het die mense in hierdie streek onder die gemeente Tulbagh geval, maar met die stigting van die gemeente Swellendam is die kerk ietwat nader gebring.

Toe die gemeente George in 1812 gestig is, het die kerklike beskawingsinvloed met hierdie stap veel nader gekom en, was dit nie vir die byna onoorkomelike Outeniquaberge nie, sou Oudtshoorn byna onmiddellik binne bereik van die kerklike voorregte geplaas gewees het. Vanaf hierdie tyd het Oudtshoorn onder George geval en is daar vir die eerste keer ‘n kerkraadslid vir hierdie wyk gekies. Ds. T.J. Herold van George was dan ook die eerste leraar wat hierdie streek bearbei het.

Namate die bevolking gegroei het, het die behoefte aan ‘n eie kerkgebou groter geword en is die eerste Godshuis aan die onderpunt van die teenswoordige Georgeweg ingewy. Tot 1845 is die gemeente Oudtshoorn deur die leraars van George bearbei, eers ds. Herold en later ds. Johan Ballot. In daardie jaar is die gemeente Mosselbaai gestig en is ‘n groot deel van Oudtshoorn, om die een of ander onverklaarbare rede, kerklik sowel as siviel onder Mosselbaai geplaas. Hierdie afskeiding het ‘n hewige stryd laat ontbrand, nie alleen tussen die gemeentes van George en Mosselbaai nie, maar ook by die inwoners van Oudtshoorn wat nie graag van George afgesny wou wees nie. Die regstreekse uitvloeisel daarvan was die afstigting van die gemeente Oudtshoorn op 11 Oktober1853. Weens finansiële moeilikhede is die eerste leraar, ds. Van der Riet, eers op 3 Mei1857 bevestig.

Die gebou aan Oudtshoorn se moederkerk is in 1861 begin, maar ná geldtekort en ander probleme is dit eers sowat 18 jaar later voltooi en is die inwydingsdiens gehou op 7 Junie 1879 (of 1880, volgens ‘n ander bron).
Die preekstoel.

Ná die oprigting van die eerste kerkgebou aan die onderpunt van Georgeweg, het die sentrum van die dorp noordwaarts geskuif sodat daar gevoel is dat ‘n nuwe kerk opgerig moes word; op ‘n vergadering van 7 November1859 is dus tot oprigting van die nuwe kerkgebou besluit. Bouwerk aan die NG kerk op Oudtshoorn is in 1863 gestaak weens ‘n knellende droogte en gevolglike geldtekort, maar ook omdat daar ‘n verskil van vier voet tussen die kerk se mure en dak was omdat die bouplanne verkeerd gelees is. Die argitek Carl Otto Hager is in 1876 of ’77 aangestel om die probleem reg te stel, en werk is weer begin aan die kerk. In Oktober 1877 is Hager per skip na Mosselbaai, en van daar met ‘n kar en vier perde na Oudtshoorn nadat hy reeds voor hy die versoek van Caledon aanvaar het, gevra is om die bouwerk te kom help voltooi. Toe hy daar kom en die aangevange mure sien wat hy verder moes voltooi, het hy gevoel dat hy al sy kennis en vaardigheid nodig sou hê om sukses daarvan te maak. Die hele kerk, ook die ornamentwerk, is van gekapte klip gebou, en vir byna elke steen moes ‘n afsonderlike tekening gemaak word. Daar was sommige stene waarvan die bewerking nie minder as £10 gekos het nie. Maar Hager was hier gelukkig. “Hatte men mij te Caledon vernedert, hier wordde ik opgericht en waardeert! Dit alles spoorde mij nog meer aan om indien mogelijk wondere te verrichten.”

Danksy die goeie kwaliteit van die Oudtshoornse klip is besluit om ook die preekstoel van klip te laat beitel, met beeldhouwerk rondom. Hager het dit gesien as die kroon op sy lewenswerk, en daarom wou hy iets besonders daarvan maak. “Mijn tekening bestemde dat er vijf Engele rondom de Preekstoel staan uit klip gekapt … Ik verzocht dus een van de jonge schoone dames van Oudtshoorn om mij als modell te staan, en nam haar gelijkenis van drie zijden in levensgrootte. Deze tekeningen zijn naar Engeland gezonden, en de Beelden zijn volgens opgaaf uitgekomen. Toen alles voltooid was, maakte de Kerk van binnen met zijn preekstoel eene prachtige vertooning.” Hierdie kerk is ingewy op 7 Junie1880 nadat die hoeksteen reeds op 15 Januarie1861 gelê is. Die totale koste was eindelik £22 425.

. . . NG gemeente Oudtshoorn . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . NG gemeente Oudtshoorn . . .

Back To Top