AF

Regina Neser

Regina Brink (*11 Mei1890, Colesberg-distrik –† onbekend) was ‘n Suid-Afrikaanse skrywer.[1] Sy is veral bekend vir haar liefdesverhale.

Regina Neser.

. . . Regina Neser . . .

Brink is op 11 Mei 1890 gebore op die familieplaas Modderfontein in die Colesberg-distrik.[2] Haar vader is Johannes Hendrik Brink van Wellington en haar moeder Anna Carolina Neser van Colesberg, wat in 1887 met mekaar getroud is.[3] Die ouers verhuis kort na hulle troue na Johannesburg, maar die moeder keer elke keer terug na die familieplaas om daar geboorte te gee aan hulle vier kinders. Regina is ‘n sieklike kind wat nie skool toe kan gaan voor haar elfde jaar nie. Die familie woon in Johannesburg, maar verhuis in 1903 na Pretoria na afloop van die builepesplaag waarin talle mense omgekom het. In Pretoria matrikuleer sy aan die Gimnasium.[4]

Sy verower haar Transvaalse Onderwysdiploma (Derdeklas Onderwyssertifikaat) aan die Normaalkollege in Pretoria en begin onderwys gee in 1910, eers op Zeerust en later op Brits en in Pretoria. Op Brits ontmoet sy die onderwyser Thomas Bennie Neser (verlangs familie van haar omdat hulle oupas broers was – hy is ‘n afstammeling van baron Augustus Tiberius Neser) met wie sy in 1914 trou.[5] Die egpaar het vier seuns, Tiber, Theo, Chip en Cal. Haar man hou na hulle troue eers in Johannesburg skool, maar hulle verhuis na ‘n jaar na Louis Trichardt, waar hy vir twee jaar hoof is. Hier doen sy malaria op en hulle moet noodgedwonge die dorp verlaat. Daarvandaan is hulle vir twee jaar Lichtenburg toe, waarna hy hoof word van die Openbare Skool op Amersfoort en hulle daar bly vir bykans dertig jaar. Dan is hulle vir etlike jare in Rhodesië woonagtig, maar na haar man se dood keer sy terug na Johannesburg, waar sy by haar een seun inwoon.[6]

Sy is van kleins af lief vir stories en maak haar eie stories op wat sy op die familieplaas aan haar broers en suster, neefs en niggies vertel. Wanneer hulle nie belangstel nie, keer sy in haarself en vertel haar stories vir haarself. Nadat sy skool toe is en leer om te skryf, begin sy skryf, aanvanklik slegs in Engels omdat dit die taal is waarin sy haar skoolonderrig ontvang het. Haar loopbaan as skrywer begin eers in erns in 1923 wanneer sy die eerste prys in ‘n kortverhaalwedstryd van die Saamwerk Unie in Natal wen. Hierna verskyn talle kortverhale van haar in verskeie tydskrifte. Biesies in die wind[7] en Maats is bundels van haar kortverhale. Hierdie verhale vertoon steeds baie van die kenmerke van die tipiese tydskrifkortverhaal, waar die emosionele hoogty vier. Daar is by haar ook ‘n tendens om die uiterlike waarnemings weer te gee, sonder innerlike diepgang.

Haar oeuvre is veral gerig op die populêre mark vir liefdesverhale. In sommige van hierdie verhale behandel sy besonder kontensieuse temas vir die tyd, wat aan haar werk besondere prominensie verleen wat nie normaalweg aan werke vir die populêre mark gegee is nie. Die retoriese en hoogdrawende taalgebruik, gebrek aan sielkundige diepgang, melodramatiese tonele en onverantwoorde gebeure veroorsaak egter dat die romans nie bo die gewone uitstyg nie. Die verstoteling behandel die probleem van swangerskap buite die huwelik en die sosiale verwerping wat daarmee gepaardgaan. Kinders van Ismael[8] se tema is die vraagstuk van gemengde huwelike en die sosio-politieke kwessies daaromheen, maar die boek gee ‘n ietwat ongenuanseerde blik op hierdie probleem. Professor Richard Maynard en sy student, Valario Sanico, word albei aangesien vir blankes maar het in werklikheid gekleurde bloed. Hulle trou, maar hulle vierde kind is ‘n kleurling, waarna die sosiale verwerping begin en die storie eindelik tragies eindig. Die titel verwys na die Bybelse Ismael, wie se hand teen almal was en almal se hand teen hom. Die oorwegende simpatie in hierdie roman is met die onregverdige lot van die kleurling. Die Nasionale Party minister dr. Eben Dönges gebruik in 1949 in die parlement hierdie boek as deel van sy motivering om met apartheidswetgewing huwelike oor die kleurskeidslyn te verbied. In ‘n artikel in Huisgenoot van 21 Desember 1934 lig R.F.A. Hoernlé Kinders van Ismail (saam met Lulu Brewis se kortverhaal Toets en die drama van J.C.B. van Niekerk, Van Riet van Rietfontein) uit as voorbeelde in die vroeë Afrikaanse letterkunde waar gekleurde karakters groter moraliteit aan die dag lê as wit karakters.

In Blare wat val is Lida se ma vroeg oorlede en sy ontbeer dus hierdie noodsaaklike leiding. Sy raak betrokke by ‘n getroude man en ten spyte van die begrip van haar vader moet sy haar probleem self oplos. Dit kos haar baie lyding, maar sy vind tog uiteindelik die rus en die liefde waarna sy smag. Hierdie roman word met groot sukses gedramatiseer en in die veertigerjare deur Benn Potgieter en Johan Fourie se geselskappe opgevoer. Porseleintjie is ‘n vervolg op Blare wat val. Die jakarandas sal weer blom word deur Johan Fourie vir die verhoog verwerk en opgevoer. Hierdie werk is ‘n soort Aspoestertjie-verhaal, waar die vordering vanaf diepe ellende tot sukses geteken word. Blomme van papier vertel van Ella van Dyk, die dogter van skatryk maar bejaarde ouers wat eensaam groot word. Sy verloor haar ouers, dan haar enigste kind en na ‘n paar jaar ook haar eggenoot, wat haar verbitterd agterlaat. Sy leef soos ‘n kluisenaar in haar huis, totdat ‘n arm bondeldraer en ‘n straatkind met papierblomme haar nuwe lewensrigting gee. Die blom van Malana is ‘n roman oor die mengelmoes bewoners van ‘n familieplaas, maar die karakters en hulle optredes is nie altyd geloofwaardig nie. Lewenswaar is die verhaal van Daleen wat tydens ‘n vakansie in Johannesburg vir Jan ontmoet, wat op haar verlief raak. Nadat sy vir hom begin werk, laat staan hy sy losbandige lewenswyse en hulle raak verloof. Haar ouers sterf en sy verdwyn daarna uit sy lewe, maar sy het hom steeds lief.[9]

. . . Regina Neser . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . Regina Neser . . .

Back To Top