AF

Lorient

Lorient (Bretons: An Oriant) is ‘n stad in die BretonsedépartementMorbihan (Noordwes-Frankryk) met ‘n oppervlakte van 17,48 vierkante kilometer en 61 548 inwoners (2011). Die stad lê naby die monding van die Blavet- en Scorffriviere.

Lorient

Kaart Wapen
Vlag
 Land  Frankryk
 Région (gewes) Bretagne
 Département Morbihan
 Koördinate 47°45′N3°22′W
 Stigting
 Oppervlakte:  
 – Totaal 17,48 vk km
 Hoogte bo seevlak 0-46 m
 Bevolking:  
 – Totaal (2011) 61 548
 – Bevolkingsdigtheid 3 521/vk km
 – Metropolitaanse gebied 212 317
 Tydsone UTC +1
 Somertyd UTC +2
 Burgemeester Norbert Métairie
 Amptelike webwerf lorient.fr

. . . Lorient . . .

Lorient se jaghawe

Lorient is in 1666 gestig en het sy ontstaan aan Jean-Baptiste Colbert se Frans-Oos-Indiese Kompanjie (Frans: Compagnie des Indes Orientales) te danke, wat twee jaar vroeër in Port-Louis opgerig is. Naby die samevloeiing van die Blavet- en Scorffriviere ontstaan in die braakland van Faouëdic ‘n skeepswerf. Die bou van die eerste skip, die Le Soleil d’Orient, is ‘n opwindende gebeurtenis vir die plaaslike gemeenskap, en uiteindelik word die nuwe stad na hierdie skip “L’Orient” (“Die ooste”) vernoem.

Danksy die welvarende kompanjie groei die stad vinnig van 6 000 inwoners in 1702 tot 20 000 in 1720. Die groeitydperk eindig met Frankryk se ondertekening van die Verdrag van Parys in 1763, waarmee die Sewejarige Oorlog beëindig word en Frankryk sy besittings in Indië kwytraak.

In 1770 koop die Franse koning die hawe; ‘n wapenfabriek dien as die belangrikste ekonomiese basis van Lorient. Napoléon Bonaparte ontwikkel die stad tot ‘n vlootbasis. Ná die Eerste Wêreldoorlog begin danksy die uitvinding van die motorboot ‘n groeitydperk vir die plaaslike vissersbedryf, en in 1920 word die vissershawe Kéroman ingewy.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog besluit die Duitse besetters om Kéroman tot ‘n duikbootbasis te ontwikkel. Ondanks geallieerde bomaanvalle bly die duikboothawe – in teenstelling met die res van die stad – tot by die einde van die oorlog bewaar, en die Duitse garnisoen lê eers op 10 Mei1945 hulle wapens neer.

Ná die Tweede Oorlog dien Kéroman as ‘n basis vir Franse dieselaangedrewe duikbote, tog word die basis in 1997 gesluit en sy aktiwiteite na Toulon in Suid-Frankryk verskuif.

. . . Lorient . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . Lorient . . .

Back To Top