AF

Ontwikkelaar

‘n Ontwikkelaar is ‘n toestel waarmee elektrisiteit, gas of stoom voortgebring word. Bekende ontwikkelaars is byvoorbeeld die by termo – en hidroëlektriese kragsentrales waarmee 220 V ontwikkel word, asook stoomketels (of selfs gewone huishoudelike ketels) waarmee stoom voortgebring kan word.

Daar word voortdurend met veral elektriese ontwikkelaars geëksperimenteer met die oog daarop om die meganiese arbeid (waarby meganismes byvoorbeeld roteer) by konvensionele kragsentrales uit te skakel, asook om energie te probeer bespaar. ‘n Opwindende ontwikkeling is die van magnetohidrodinamiese (MHD) ontwikkelaars, waarby beoog word om elektrisiteit sonder ‘n meganiese ontwikkelaar en boonop deur middel van kernenergie te ontwikkel.

. . . Ontwikkelaar . . .

‘n Gasontwikkelaar word vir die vergassing van vaste brandstowwe soos steenkool, kooks en hout gebruik. Die gas wat so verkry word, word vir stadsverligting (ouer stede), huishoudelike gebruik of chemiese prosesse in fabrieke gebruik. Die ontwikkelaar bestaan uit ʼn geslote ruimte (kamer) waarin die brandstof is. Terwyl die brandstof brand, word lug of stoom daarby ingevoer en ‘n vergassingsreaksie ontstaan. Die gas word afgevoer en deur ‘n voorreiniger gestuur om growwe deeltjies daaruit te verwyder.

Vervolgens kom die gas in ‘n verkoeler, en tydens verkoeling vind ‘n groot temperatuursvermindering en gevolglik ‘n groot volumevermindering plaas. Daarna word die gas deur ‘n nareiniger gestuur, en ten slotte word dit met behulp van filters gesuiwer. Na gelang van die brandstof en die vergassingsmetode wat gebruik word, word gasse verkry soos watergas (bestaande uit waterstof en koolmonoksied), lig- of stadsgas (waterstof en metaan), luggas (stikstof en koolmonoksied) en houtgas. Die verbrandingswaarde van die gasse wissel van ongeveer 10 000 tot 20 kJ/kg.

‘n Stoomontwikkelaar bestaan in beginsel uit ʼn ketel waarin water verhit word sodat stoom gevorm word. Die belangrikste oorweging by ketels is om die gunstigste moontlike kontak tussen vuur en water te probeer bewerkstellig. So is daar die vlampypketel, waarin ‘n aantal pype waardeur warm verbrandingsgasse stroom, deur die water omring word.

Die teenoorgestelde hiervan is die waterpypketel, waarin die water deur ‘n aantal pype stroom wat deur ‘n vuur omring is. Die stoom wat voortgebring word, word byvoorbeeld gebruik vir die aandrywing van ‘n stoomturbine van ‘n kragsentrale, waarmee die elektriese ontwikkelaar (generator) uiteindelik aangedryf word.

In fisika- en in sommige geneeskundige laboratoria word ‘n geweldig hoë elektriese spanning dikwels benodig, en so ʼn spanning word met behulp van elektrostatiese ontwikkelaars verkry. ‘n Elektrostatiese ontwikkelaar kan gewoonlik ‘n hoe spanning maar slegs ‘n lae stroom lewer.

ʼn Bekende voorbeeld hiervan is die spanning (tot 100 000 V) wat met ʼn klein Van de Graaff-ontwikkelaar ontwikkel word maar wat in ʼn statiese ontlading (deur ‘n aarddraad daarmee te verbind) slegs vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde ‘n klein stroompie (soms bloot ‘n kort vonkie) laat vloei. By die Van de Graaff-ontwikkelaar word ‘n aaneenlopende band deur twee wiele aangedryf, terwyl die band teen borseltjies druk waarmee elektrone na ‘n sekere punt gevoer word. Die spanning wat so ontwikkel word, is eweredig aan die hoeveelheid versamelde elektrone, en sommige Van de Graaff-ontwikkelaars kan spannings van tot 10 miljoen V lewer.

Wanneer ‘n geleier (byvoorbeeld ʼn draad) deur ‘n magneetveld beweeg, ontstaan daar ‘n spanning oor die punte van die geleier, en as die punte met meka.fr verbind word, sa! ‘n stroom deur die geleier vloei. Hier word meganiese arbeid dus in elektriese arbeid omgesit. Om die proses glad te laat verloop, word die geleier byvoorbeeld om ‘n anker (ysterkern) gewikkel wat tussen die pole van elektromagnete kan roteer.

Aangesien die elektromagnete ʼn veld veroorsaak wat noord-suid gerig is, beweeg die geleier om die anker dus om die beurt by die noord- en suidpole verby en ontwikkel ‘n wisselende spanning. Die wisselende spanning word met behulp van roterende kontakte (kommutator) gelykgerig, waardeur ‘n gelykspanning verkry word. As die ontwikkelaar dan aan ‘n stroomkring gekoppel word, sal ‘n gelykstroom daarin vloei. Gelykstroomontwikkelaars word byvoorbeeld in motors gebruik om batterye te laai (generator).

Wisselstroomontwikkelaars word in elektriese kragsentrales vir grootskaalse elektrisiteitsontwikkeling gebruik, hoewel kleiner weergawes dikwels vir ander doeleindes aangewend word. Bekende klein wisselstroomontwikkelaars is byvoorbeeld die draagbare 220-V-ontwikkelaars wat deur petrolenjins aangedryf en onder meer vir kampeerdoeleindes gebruik word. Die beginsel waarop wisselstroomontwikkelaars werk, is dieselfde as die van gelykstroomontwikkelaars, naamlik ‘n geleier wat in ‘n magneetveld beweeg.

Die enigste verskil is dat die stroom nie gelykgerig word nie aangesien dit vir die meeste doeleindes onnodig is. Een van die plekke waar die wisselstroom wel gelykgerig, word, is by motors, waar ‘n klein wisselstroomontwikkelaar (alternator) saam met ‘n gelykrigter gebruik word om die battery te laai (soos in die geval van ‘n gelykstroomontwikkelaar). Hoewel ontwikkelaars gebruik word om elektriese energie te lewer, is hulle self energieverbruikers wat gewoonlik deur enjins of turbines (stoom- of waterturbines) aangedryf word. Daar is byvoorbeeld ontwikkelaars wat met behulp van dieselenjins aangedryf word en vermoëns van tot 5 MW (5 000 kW) het.

Groter ontwikkelaars word deur middel van waterturbines by hidroëlektriese kragsentrales aangedryf en kan tot 500 MW lewer. Die grootste ontwikkelaars word egter aangedryf deur stoomturbines, waarvan die stoom uit stoomketels verkry word. Die stoomketels word verhit deur die verbranding van steenkool, olie of gas, of deur kernklowing by kernkragsentrales. Die eerste turbo-ontwikkelaar is in 1903 deur die General Electric-maatskappy gebou en kon 5 MW lewer. Daarna het ontwikkelaars steeds groter en kragtiger geword en teenswoordig kan dit tot 1000 MW per eenheid verskaf (elektriese kragsentrales het gewoonlik meer as een ontwikkelaareenheid).

. . . Ontwikkelaar . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . Ontwikkelaar . . .

Back To Top