AF

Rococo

Rococo is ‘n Europese stylperiode in die beeldende kunste, wat sy hoogtepunt tussen 1730 en 1760 beleef het. Die naam is afgelei van die Franse woord rocaille, ‘n asimmetries skulpmotief wat dikwels in die 18de-eeuse barok in die toegepaste kunste gebruik is. Die woord rocaille kom van die Franse woorde roc (rots) en coquilles (skulpe) en dui op die dekoratiewe voorkoms dat dit verskaf.

Cuvilliés-teater, 1751–53
Tafelontwerp, Juste-Aurèle Meissonnier, Parys, ca 1730

. . . Rococo . . .

Die Rococo, wat aan die einde van die 17e eeu begin ontwikkel het, was ‘n kunsvorm wat op wêreldse genietinge gerig was en eintlik net tot ‘n klein groepie van die elite beperk was. Die term Rococo is waarskynlik ‘n samevoeging van rocaile en coquille, die kenmerkende skulpagtige ornamentvorm van die tyd.

Omdat die bloeityd van die Rococo met die regeringstyd van Lodewyk XV saamval, word die styl, veral in die meubelkuns, ook die Lodewyk XV of die Louis Quinze-styl genoem. Daar het nog altyd meningsverskil bestaan oor die vraag of die Rococo as ‘n afsonderlike styl beskou moet word, of as ‘n voortsetting van die Laat Barok. Die verwarring word verder vergroot deur die feit dat bepaalde elemente van die Barok in die Rococo herhaal word, hoewel die Rococo terselfdertyd ook ʼn reaksie teen die statigheid van die Barok was.

Gedurende die laaste lewensjare van Lodewyk XIV (regeer 16431715) het daar al ʼn verslapping in die deftigheid van die hoflewe en die streng akademiese kuns ingetree. Die neiging het hom tydens die regentskap van die Hertog van Orléans (17151723) voortgesit, terwyl die Klassisisme, die onderstroming van die Barok, tot ‘n einde gekom het. Kenmerkend vir die Rococo is die asimmetriese ornament wat uit C- en S-vormige volute opgebou is en ‘n ligsinnige en speelse indruk wek.

‘n Nuwe beginsel wat in binnenshuise versiering toegepas is, was dat die vertrek as ‘n geheel beskou is waaraan die dekoratiewe elemente ondergeskik is. Die Rococo se strewe om te behaag en plesier te verskaf, het tot uiting gekom in ʼn nuwe meubelkuns waarin gemak die ontwerp grootliks beïnvloed het, byvoorbeeld die chaise longue (leuningsofa). In die skilderkuns het die strewe in ‘n duidelike sinspeling op sensualiteit en erotiek tot uiting gekom. Wat die boukuns betref, het die Rococo geen vernuwing in die vorm meegebring nie, maar wel in die manier waarop die geboue versier is.

Die Rococo het dan ook sy hoogtepunt in die toegepaste kunste bereik. ‘n Ander kenmerk van die Rococo is die belangstelling in vreemde kulture, veral die van China en Japan, wat uiting gevind het in die sogenaamde chinoiserie (die toepassing van Chinese motiewe). In die tweede helfte van die 18e eeu het opgrawings by Pompeii en Herculaneum en die teoretiese geskrifte van Johann Joachim Winckelmann ‘n oplewing in die belangstelling in die klassieke kuns teweeggebring en die koel, streng styl van die Neo-Klassisisme het as reaksie op die Rococo ontstaan.

. . . Rococo . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . Rococo . . .

Back To Top