AF

Thomas Chippendale

article - Thomas Chippendale

Thomas Chippendale (1718–1779) is in Otley in West Riding, Yorkshire, Engeland, gebore. Hy het ‘n skrynwerker in Londen geword, en meubels in die middel-Georgiaanse, Engelse Rococo en Neoklassieke style ontwerp. In 1754 het hy ‘n boek met sy ontwerpe, getiteld The Gentleman and Cabinet Maker’s Director, gepubliseer. Dit het aan hom bekendheid verleen. Die ontwerpe word beskou as verteenwoordigend van Britse meubels van daardie tydperk, en word steeds wêreldwyd vervaardig. Volgens die register van die kerk St Martin-in-the-Fields, is hy op 16 November 1779 in die begraafplaas begrawe. Sedertdien is die Nasionale Galery op die perseel gebou. Chippendale-meubels word baie hoog aangeslaan; ‘n padouk-kabinet is in 2008 op ‘n veiling vir £ 2 729 250 verkoop.[1]

Standbeeld van Thomas Chippendale in Otley

. . . Thomas Chippendale . . .

” ‘n Ontwerp vir ‘n staatsbed” soos wat dit in die Director van 1762 verskyn het.

Chippendale is as die enigste kind van John Chippendale (1690–1768) en sy eerste vrou Mary (née Drake) (1693–1729) gebore. Hy het ‘n basiese opleiding aan Prins Henry Gimnasium ontvang.[2] Die Chippendale-gesin was vir geruime tyd by houtwerkondernemings betrokke. Sy basiese opleiding het hy gevolglik waarskynklik van sy pa ontvang. Hy het egter ook, voordat hy na Londen verhuis het, by Richard Wood in York, opleiding ontvang.[3] Wood het later agt eksemplare van die Director bestel. Op 19 Mei 1748 het hy met Catherine Redshaw, in die St George’s katedraal, Mayfair, getrou. Hulle het vyf seuns en vier dogters gehad.

In 1749 het Chippendale ‘n beskeie huis in Conduit-hof, naby Covent Garden, gehuur. In 1752 verhuis hy na Somerset-hof, buite die Strand. In 1754 verhuis Chippendale na St Martinslaan 60–62, in Londen, waar die familieonderneming vir die volgende 60 jaar bedryf is. Die onderneming het in 1813 tot ‘n einde gekom toe Chippendale se seun, Thomas Chippendale (Junior), weens bankrotskap uitgesit is. Gedurende 1754 gaan Chippendale ook ‘n vennootskap met James Rannie, ‘n welgestelde Skotse handelaar, aan. Rannie het geld in die onderneming gestort op dieselfde stadium as wat Chippendale die eerste uitgawe van die Director gepubliseer het. Rannie en sy boekhouer, Thomas Haig, het waarskynlik na die finansies van die onderneming omgesien. Chippendale se vrou, Catherine, is gedurende 1772 oorlede. Nadat James Rannie in 1766 oorlede is, wil dit voorkom asof Thomas Haig £ 2.000 van Rannie se weduwee geleen het, wat hy gebruik het om Chippendale se vennoot te word. Een van Rannie se eksekuteurs, Henry Ferguson, het ‘n derde vennoot geword, met die gevolg dat die besigheid as Chippendale, Haig en Co. bekend gestaan het. Thomas Chippendale (Junior) het die bestuur van die besigheid in 1776 oorgeneem, wat dit vir sy pa moontlik gemaak het om af te tree. Hy het die besigheid na wat destyds as Lob-se-veld (nou Derrystraat) in Kensington, bekend gestaan het, geskuif. Chippendale is op 5 Augustus 1777 in die Fulham plaaslike kerk met Elizabeth Davis getroud. Nog drie kinders is uit hierdie huwelik gebore. In 1779 het Chippendale na Hoxton verhuis, waar hy aan tuberkulose gesterf het, en op 16 November 1779 by St Martin-in-the-Fields begrawe is.

Daar is ‘n standbeeld en gedenkplaat wat aan Chippendale opgedra is, buite The Old Grammar School Gallery in Manor Square, in sy tuisdorp, Otley, naby Leeds, Yorkshire.[4] Daar is ook ‘n volgroote standbeeld van Thomas Chippendale voor die fasade van die Victoria en Albert-museum, Londen.

Pembroke-tafel, in 1775 deur Chippendale ontwerp vir Paxton-huis
“Twee boekrakke”, soos wat dit in die Director van 1954 verskyn.

Nadat hy in 1754 as ‘n ambagskrynwerker in Londen gewerk het, het hy die eerste skrynwerker geword wat ‘n boek met sy ontwerpe, The Gentleman and Cabinet Maker’s Director uitgegee het.[5] Drie uitgawes is gepubliseer, die eerste in 1754, gevolg deur ‘n herdruk in 1755. In 1762 is ‘n hersiene en uitgebreide uitgawe, waarin Chippendale se geïllustreerde ontwerpe tekens van neoklassisisme begin toon, gepubliseer. Chippendale het gedurende sy aktiewe jare heelwat kompetisie gehad, in die besonder van Ince en Mayhew.

. . . Thomas Chippendale . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . Thomas Chippendale . . .

Back To Top