AF

Vergilius

Publius Vergilius Maro (15 Oktober 70 v.C. – 21 September 19 v.C.), of net Vergilius, was ’n Antieke Romeinse digter uit die Augustynse era. Hy is bekend vir drie belangrike Latynse letterkundewerke, die Eclogae, die Georgica en die eposEneïde. ’n Aantal kleiner gedigte, saamgevat in die Appendix Vergiliana, word ook soms aan hom toegeskryf.

Vergilius
Uitbeelding van Vergilius, 3de eeu (“Monnus-Mosaïek”, Rheinisches Landesmuseum, Trier)

Geboortenaam Publius Vergilius Maro
Geboorte 15 Oktober 70 v.C.
naby Mantua, Gallia Cisalpina, Romeinse Republiek
Sterfte 21 September19 v.C. (op 50)
Brundisium, Italia, Romeinse Ryk
Nasionaliteit Romeins
Beroep Digter
Genre Epiese digkuns, didaktiese digkuns, herdersdigkuns

Vergilius word tradisioneel as een van Rome se vernaamste digters geag. Sy Eneïde word al vandat dit neergepen is tot vandag beskou as die Romeinse nasionale epos en is geskoei op die lees van Homeros se Ilias en Odussee. Dit volg die Trojaanse vlugteling Eneas in sy stryd ter vervulling van sy roeping en sy aanland op Italiaanse bodem – volgens die Romeinse mitologie die stigting van Rome. Vergilius se werke het ’n wye en groot invloed op Westerse letterkunde. Dit kan vernaamlik opgemerk word in Dante se Goddelike komedie, waarin Vergilius verskyn as Dante se gids deur die hel en vaevuur.

. . . Vergilius . . .

Vergilius se biografiese oorlewering is na bewering gegrond op die verlore biografie deur Varius, Vergilius se redigeerder, wat opgeneem is in Seutomius se biografie, asook die kommentaar van Servius en Donatus. Servius en Donatus was die twee belangrikste kommentators op Vergilius se digkuns. Hoewel die kommentaar sonder twyfel heelwat feitelike inligting oor Vergilius bevat, bestaan daar tog bewyse dat gesteun is op gevolgtrekkings gemaak vanuit sy digkuns en allegorie. Sy biografiese oorlewering bly dus ’n tameletjie.[1]:1602

Volgens hierdie oorlewering is Vergilius op die dorpie Andes naby Mantua[2] in Gallia Cisalpina gebore.[3]

Die ontleding van sy naam het gelei tot die idee dat hy van vroeëre Roomse setlaars afstam. Macrobius noem dat Vergilius se pa van eenvoudige agtergrond was. Moderne geleerdes dink egter eerder dat Vergilius uit ’n Roomse adellike familie kom wat grondeienaars was en sodoende ’n goeie opvoeding kon bekostig. Hy het skoolgegaan in Cremona, Mediolanum, Rome en Napels. Hy het daarna ’n kortstondige loopbaan in die regte en retoriek gevolg voordat hy hom tot die digkuns gewend het.[4]

Volgens kommentators begin Virgilius se opvoeding op vyfjarige ouderdom en is hy later na Cremona, Milaan en teen die einde na Rome. Daar wy hy hom toe in die retoriek, geneeskunde en sterrekunde, hoewel hy laasgenoemde gou verruil vir filosofie. Uit Vergilius se bewonderende verwysings na die neoteriese skrywers Pollio en Cinna kan afgelei word dat hy vir ’n tyd lank geassosieer is met Catullus se neoteriese kring. Skoolmaats beskryf hom, volgens Servius, as baie skaam en hy kry die bynaam “Parthenias” of “meisie” as gevolg van sy sosiale gereserveerdheid. Dit blyk dat Vergilius sy hele lewe lank gesukkel het met swak gesondheid en in ’n mate die lewe van ’n invalide gelei het. Volgens die “Catalepton” het hy in Napels, in die Epikuristiese skool van Siro die Epikuris, begin om poësie te skryf. ’n Versameling werke wat deur kommentators aan ’n jeugdige Vergilius toegeskryf word, het saam behoue gebly onder die titel Appendix Vergiliana. Dit word egter grootliks deur geleerdes beskou as nagemaak. Een hiervan, die Catalepton, bestaan uit veertien kort gedigte,[1]:1602 waarvan sommige Vergilius s’n kan wees, en ’n ander kort narratiewe gedig, Culex (“Die Muggie”), is al in die 1ste eeu n.C. aan hom toegeskryf.

. . . Vergilius . . .

This article is issued from web site Wikipedia. The original article may be a bit shortened or modified. Some links may have been modified. The text is licensed under “Creative Commons – Attribution – Sharealike” [1] and some of the text can also be licensed under the terms of the “GNU Free Documentation License” [2]. Additional terms may apply for the media files. By using this site, you agree to our Legal pages . Web links: [1] [2]

. . . Vergilius . . .

Back To Top